»  Articles
Bewerings oor intimidasie en misbruik van staatshulp versteur rustige Noord-Kaap
[2009 April 15]

Deur Christi van der Westhuizen

Die nimmereindigende vlaktes van die Noord-Kaap kan rustig voorkom, maar dit is bedrieglik. Die politieke temperature loop plek-plek hoog in hierdie provinsie met die groot grondgebied en disproporsioneel min mense.

Intimidasie en misbruik van staatshulpbronne tel onder die klagtes wat die Election Monitoring Network (EMN), bestaande uit nie-regeringsorganisasies, in distrikte soos Francis Baard (waar Kimberley is); Siyanda (Upington en Keimoes); en Pixley ka Seme (Prieska) opgetel het.

Cope se aankoms op die politieke toneel blyk veral ‘n faktor te wees. EMN-monitors rapporteer dat ANC-lede ‘n vergadering van Cope se premierskandidaat in die provinsie, mnr. Neville Mompati, op 12 Maart probeer ontwrig het. In Pixley ka Seme-distrik het hulle plakkate en klippe na sy konvooi gegooi en plaaslike ANC-raadslede het na bewering die Mompati-vergadering probeer onderbreek. Bottels is gebreek en messe is glo uitgepluk.

In Keimoes beweer die plaaslike Cope-kandidaat, Malie Barnard, dat sy dreigoproepe van ANC-lede ontvang. Sy is glo as ‘n “Cope-n****r” uitgeskel en gedreig dat haar huis “uitgebrand” sal word. Haar poging om dit glo by die polisie aan te meld, het op niks uitgeloop want die polisie meen “dis ‘n politieke ding”.

Volgens inligting van die EMN “spioeneer” ANC-lede by Cope-byeenkomste om te sien watter gemeenskapslede is aanwesig. Name word geneem en dit bei”nvloed mense se kanse om werk te kry by munisipale projekte soos padwerke in die Prieska-gebied.

“Die arrogansie is so groot dat vir mense in hul gesigte gese^ word jobs is net vir ANC-mense,’’ beweer mnr Giel MacDonald, Cope-sekretaris in Prieska. Hy het ‘n betoging daaroor gelei ‘n paar weke gelede.

Volgens MacDonald was die ANC-lede se optrede tydens Mompati se besoek ‘n poging tot “magsvertoon” om mense “te viktimiseer”. Hierby sluit aan beweerde dreigemente van ANC-lede soos “dis die ANC wat jou huis gebou het en dis die ANC wat dit kan terugvat”.

ANC-lede buit mense se weerloosheid en ongeletterdheid uit. Een bewering wat belaglik klink, maar wat in alle eerlikheid gemaak is, is dat voornemende kiesers vertel word dat as hulle nie ANC stem op 22 April nie, sal ‘n liggie aangaan in ‘n plaaslike ANC-lid se huis wat wys wie teen die ANC gestem het.

MacDonald meen ANC-lede gee voor dat kospakkette nie van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Welsynsagentskap (SASSA) kom nie, maar van die ANC self. Volgens hom is die kospakkette ‘n nuwe verwikkeling van die afgelope drie maande – net betyds vir die verkiesing.

Mervin Willemse, Cope-lid in Keimoes, beweer ook dat ANC-lede dit vir inwoners duidelik maak dat die ANC-lede verantwoordelik vir die beskikbaarstelling van kospakkies is en as mense nie vir die ANC stem nie, is dit die einde van die kospakkies.

Om hierdie aantygings te verifieer, is moeilik. By besoek aan E’thembeni in Prieska blyk dit inwoners is o’f te bang om te erken dat hulle kospakkette ontvang o’f praat nie die waarheid oor die besonderhede van hoe hulle kospakkette bekom het nie.

Een ANC-lid wat “reguit praat” het erken dat dat daar probleme is met die koshulp. Hoewel die pakkette bestem is vir die armes, kom dit nie by hulle uit nie. Hy het sy eie woonbuurt as voorbeeld genoem. Hoewel heelwat van sy bure uiters swaar kry, is ‘n kospakket in die nag by iemand afgelewer wat glo familiekontakte by die plaaslike SASSA-kantoor in Prieska.

My poging om antwoorde op die bewerings oor die voedselhulp te kry, het vasgeval by mnr Thamsanqa Cube, ‘n staatsamptenaar wat werk by Prieska se SASSA-kantoor en verantwoordelik is vir die aflaai van die pakkies. Hy is nie by magte om met my te praat nie, het hy gese^, maar hy het daarop aangedring dat ek vir hom die naam van die mense gee wat die bewerings maak, in ruil vir sy bestuurder se naam.

Toe raak hy die volgende kwyt: ‘‘I‘m going to make sure that if you advertise (sic) an article about my name on the newspaper I will deal with you... If you go to the paper with that thing, you’re going to deal with the consequences thereafter... I am not threatening you, you are threatening yourself. You cannot just go and investigate randomly. Give me the name. I told you, give me the name of the person who has called you from Cope.’’

Die’ dreigement aan ‘n joernalis skep ‘n idee van die soort politieke spanning in sommige plekke in die Noord-Kaap. Dit was opvallend dat sommige Cope-mense bevrees was om met my te praat of hul name te laat publiseer. Sommige inwoners in E’thembeni was ook benoud om te praat – of dit nou oor die koshulp was of oor vir wie hulle gaan stem.

Een voorbeeld was die 26-jarige Urben Swartz wat meestal werkloos is vandat hy skool verlaat het. Hy bly saam met sy twee bejaarde ouers -- die gesin oorleef meestal op hul staatspensioene. Gevra hoe hulle stem, bly die twee ou mense tjoepstil. Die jong Swartz dui toe aan dat hy ‘n DA-ondersteuner is, wat hom enig sou maak gegewe die DA se swak vertoning in die Noord-Kaap in 2004.

Na’ die tyd kry ek inligting dat Urben Swartz gereeld vrywilligerswerk vir die ANC doen. Maar hy het nie gemaklik gevoel om wat blykbaar ‘n welbekende feit is teenoor ‘n joernalis te erken nie.

In ‘n ander onderhoud, die’ keer met iemand wat openlik ‘n ANC-lid is (die een wat “reguit praat”), het ‘n familielid hom gereeld tydens sy kritiese relaas oor sy party in die rede geval met opmerkings soos “maar ons is steeds baie lief vir die ANC”.

Hierdie reaksies tydens onderhoude, gepaard met die verslae oor beweerde “spioenering”, skep die indruk van ‘n hoe” vlak van wantroue en agterdog.

Me Avilien van Wyk, DA-raadslid in Keimoes, verklaar die verhoogde spanning as dat Cope-lede weet van die magsmisbruik wat ANC-lede byvoorbeeld na bewering met staatswerksgeleenthede pleeg omdat baie Cope-lede voorheen in die ANC was. Cope gebruik hierdie inligting om mense voor die verkiesing te probeer mobiliseer en dit lok ‘n teenreaksie by ANC-lede uit.

Maar mnr Rodney Pieters, ANC-verkiesingskoo”rdineerder in die Pixley ka Seme-distrik, dring daarop aan dat die ANC nie sy veldtog deur Cope sal laat bepaal nie. Hy verklaar die beweerde intimidasie deur Cope-lede in Richmond in sy distrik as dat Cope se “eie veldtog nie van die grond afkom nie. Mense reageer nie op hulle soos hulle gedink het nie. Hulle het nie die impak waarvoor hulle gehoop het nie”.

Oor die aantygings dat ANC-lede Mompati se besoek probeer ontwrig het, se^ Pieters dat Cope-lede die bewerings maak in ‘n poging om geloofwaardigheid vir hul party te skep. Hy het ook uitgewys dat die voorvalle nie onder sy aandag gebring is nie en ook nie by die polisie of die Onafhanklike Verkiesingskommissie aangemeld is nie. 

Die bewerings oor intimidasie en spioenering “maak nie sin nie”, meen Pieters. “Hulle hou ‘n vergadering en mense woon dit by uit nuuskierigheid. Hoe identifiseer hulle spioene? Ons het nie nodig om op enigiemand te spioeneer nie.”

Gemeet aan die ANC se steun in die Noord-Kaap het hy ‘n punt beet. Altesame 69 percent van die kieserskorps daar het in 2004 ANC gestem. ‘n Onlangse peiling van Plus94 Research wys dat die ANC hierdie jaar met selfs ‘n groter meerderheid gaan wen – 72,8 persent.

Hierdie artikel deur onafhanklike joernalis en politieke ontleder Christi van der Westhuizen word beskikbaar gestel deur die Election Monitoring Network in die belang van ‘n vrye en regverdige verkiesing. Die standpunte is die’ van die skrywer.

 

 

 

Die artikel was eerste gepublisheer in die Volksblad en in die Beeld.

RSS Feed
Subscribe by RSS Subscribe by RSS
Subscribe by Email
Popular Articles:
Related Programme:
Election Monitoring Network

The Election Monitoring Network (EMN) was a network of independent civil society organisations set up to monitor election related abuse or violence in the lead up to the South African 2009 election, held in April 2009.

Read More »
Related Topics:
Elections & Electoral Systems

Online Bookstore

:
Click here for Idasa's online bookstore
Click here for Idasa's online bookstore.